Beweeg op Woord

 

Een van die eerste basiese beginsels van die koninkryk wat geleer moet word, is om geen besluit sonder 'n woord van GOD te maak nie.

Omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is (2 Kor 5:15 AOV). Ons is oor die algemeen eensgesind in hierdie waarheid. As ons dan nie meer aan onsself behoort nie en nie meer vir onsself lewe nie, maak dit dan nie júís sin dat elke beweging en keuse wat ons maak, ‘n opdrag van GOD moet wees nie?

 

Is dit dan nie wat Jesus Christus bedoel het toe hy die volgende gesê het nie? Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so (Joh 5:19).

 

Selfs Jesus Christus se woorde het nie uit homself gekom nie: Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat (Joh 12:49 ANV).

 

Indien bogenoemde die waarheid is, kan ons ʼn besigheid begin sonder ʼn "ja" van GOD? Kan ons byvoorbeeld met ‘n gesin begin sonder ʼn woord van GOD? Is dit regverdig om ons kinders in ʼn skool te plaas sonder dat VADER vir ons gesê het watter skool? Kan ons ʼn werk aanvaar sonder die "Ja my Seun, hierdie is die regte werk vir jou" van GOD? Kan ons ‘n rigting gaan studeer sonder dat die EEN wat ons die beste ken, vir ons bevestig watter rigting ons moet kies?

 

Ons beland soveel keer in ʼn verkeerde beroep waar ons nie vervulling kry nie; ons studeer rigtings wat nie in lyn is met ons roeping nie; ons raak betrokke in besigheidstransaksies waar ons seer kry en besteel word. Hierdie kan alles vermy word wanneer ons op ‘n woord van GOD beweeg.

 

Omdat ons egter nie beweeg op ʼn woord van GOD nie, beland ons in areas waar GOD ons nie kan beskerm nie en dan kry GOD altyd die skuld.

 

Kom ons gebruik die voorbeeld van motor koop. Indien ons ‘n motor koop sonder om GOD te raadpleeg en drie maande later – weens onvoorsiene omstandighede – kan ons nie die voertuig betaal nie, sal ons vinnig wees om GOD te blameer omdat HY toegelaat het dat ons in daardie posisie beland het. ‘Kyk HY dan nie na SY kinders nie?’ is die eerste vraag wat opkom. Dit was egter nooit GOD se keuse om die motor te koop nie, dit was ons eie keuse en dit is onregverdig om GOD te blameer vir ons keuses wat verkeerd loop.

 

Wanneer so iets gebeur, probeer ons gewoonlik sin maak van die situasie en vra onsself af hoekom GOD dit toegelaat het. Ons swak keuses word dan toegetrek onder die mantel van: ‘GOD is besig om my te toets’.

 

Die Skrif is duidelik dat GOD niemand toets nie; die oorsaak van die omstandighede (soos hierbo genoem) is omdat ons op ons eie begeertes beweeg het en nie op die woord en opdrag van GOD nie (Jak 1:13-14).

 

GOD se beskerming en voorsiening lê in SY woord. Wanneer GOD die keuse maak – en ons dit uitvoer – is HY verantwoordelik vir die voorsiening en beskerming daarvan. Ons verantwoordelikheid lê daarin om gehoorsaam aan SY woord te wees.